Resensie vir FMR van My Pad met die Doodsengel
My pad met die doodsengel deur Belinda Bras-Nel – Naledi
Belinda Bras-Nel tree al jare lank in verbinding met geliefdes wat hulle reeds in die hemelse dimensie bevind. Om dié rede ervaar sy daagliks die pyn en worsteling van naasbestaandes wat haar vir nadoodse boodskappe raadpleeg. Bykans almal vra dieselfde vrae en Bras-Nel moes dit eenvoudig opteken. Die besluit om ’n boek te skryf, het egter eers ná haar pa se dood gekom; toe sy haar ma wou bystaan.
Nouja . . . jy glo óf in die psigiese dimensie, of glad nie. Besware, soos dat dit volgens Bybelse norme onaanvaarbaar is om met dooies te kommunikeer, is daar baie. Daarom is dit interessant dat tussengangers soos Bras-Nel dikwels gelowig of intens spiritueel is.
Wanneer jy My pad met die doodsengel lees, is koue rillings gewaarborg. Jy sal waarskynlik gereeld vra: Kan dit wees? Daarby raak Bras-Nel kwessies aan waarmee baie van ons worstel, soos: Hoekom is jy bang vir die dood? Wat gebeur wanneer jy sterf? Is daar enige troos vir rousmart? En: Hoe oorkom jy die vrees dat jy ’n kind kan verloor?
Gevallestudies – name word dikwels genoem – verleen kleur aan die feitlike inligting en jy lees verstom aan gewone mense, én bekendes, soos die sanger Nianell en die skrywer Riana Scheepers, se bonatuurlike ervarings.
Indien jy die bestaan van engele betwyfel, sal jy ná die lees van My pad met die doodsengel moontlik twee keer dink. Die skrywer se gesprekke met dooies oortuig eweneens. Diegene in die hemelse sfeer praat eenvoudig anders, dis ietwat moeilik om te beskryf.
Bras-Nel se raad vir, en inligting oor rousmart is absoluut waardevol vir dié van ons wat al ’n geliefde aan die dood afgestaan het. Sy praat ook uit eie ervaring. Háár troos, sê sy, lê in kommunikasie met haar oorlede pa.
Soms praat oorledenes ook met ons. Soos wanneer ’n sekere kamer in jou huis se ligte voortdurend aan- en afskakel. Of jy jou verbeel dat jy jou oorlede ma se parfuum ruik terwyl jy alleen is. Verbeelding is dit nie.
Gesinne van diegene wat hul lewe aan selfdood afgestaan het, word dikwels met verwyte en beskuldigings gekonfronteer. Om van skuldgevoelens nie eens te praat nie. Hoe vertroostend daarom dat Bras-Nel hierdie dooies se siele as “suiwer” ervaar. Hul energie is byna soos dié van engele, skryf sy. Daarby het hulle wat aan selfdood oorlede is een ding gemeen: Hulle kom lê hul lewe af as geskenk vir die sielsgroep waarbinne hulle gebore is, skryf sy.
Ewe insiggewend is die deel oor nadoodse ervarings. Almal wat al daardeur is, ervaar en sien bykans dieselfde dinge. As jy klinies dood was en weer teruggeruk word na jou liggaam, is jou lewe nog nie verby nie. En sal jy waarskynlik nie meer die dood vrees nie. Die voorsmakie van wat wag, was immers só goed.
Die dood kan ook positiewe nagevolge hê, al besef jy dit dalk nie midde-in die rouproses nie. Vandaar afdelings soos “Hierdie dinge verstaan ek nou beter” en “Die lewenslesse van my ma se dood”, waar geliefdes hul ervarings deel.
Kenners soos die filosoof en skrywer dr. Abel Pienaar, die teoloog dr. Chris Jones en selfs ’n paleontoloog, dr. Jurie van den Heever, verleen gravitas aan die inhoud.
Indien jy al iemand kosbaars aan die dood afgestaan het, sal jy waarskynlik My pad met die doodsengel met ’n gevoel van vrede, liefde en vertroosting toemaak. Terselfdertyd sal jy besef dat jý nog lewe. Soos dr. Wayne Dyer, ’n bekende Amerikaanse skrywer en motiveringspreker, gewaarsku het: Just don’t die with the music still in you.
Recent Comments