My Pad met die Doodsengel
“Miskien was dit Klara se tyd om te gaan. Ons is so pateties met verskriklike trauma en hartseer, terwyl sy dalk vir veertien jaar aarde toe moes kom net om dit te ervaar. As haar ervaring lankal afgespreek was, waarom huil ons daaroor as ’n verskriklike tragedie? Dalk was dit die plan in die eerste plek.
“Aan die begin het ek glad nie Klara se siel ervaar nie. Ek het die eerste keer met Belinda kontak gehad toe sy uit die bloute vir my ’n persoonlike boodskap op Facebook stuur. Klara se siel het haar gevra het om my te laat weet dat sy oukei is.
“’n Ruk later het ons telefonies gesels, net vir ondersteuning, nie vir ’n boodskap nie. Belinda het genoem dat Klara wys dat sy in my drome aan my wou verskyn. Maar ek het vir haar gesê dat ek in elk geval nie my drome onthou nie. Dit het my ook nie gepla dat ek nie vir Klara ervaar nie, want ek glo dat as dit moet gebeur, sal dit.
“Ná hierdie gesprek het Klara my wel in ’n droom besoek. Een oggend vroeg ná ek weer heelnag gehuil het en net ’n halfuur weggeraak het. Ek het met betontrappe, amper soos in ’n parkade, afgeloop. Soos wat ek afstap en konsentreer om om die draaie tussen die vlakke te gaan, kom ek agter dat Klara langs my stap.
“Ek het aangehou met loop en ek sê vir haar: ‘My liewe vader, my skat, kom kuier jy vir my ná jy dood is?’ ‘Ja,’ antwoord sy vrolik en sy glimlag terwyl sy by die trappe af huppel. ‘Kom hier dat ek jou ’n drukkie gee, dat ek kan voel hoe jy voel,’ en ek druk haar lekker vas. ‘Oe, maar jy voel nog lekker ná jy dood is.’ ‘Ja’, antwoord sy.
“Weer wou ek aan haar voel om te weet hoe voel ’n mens as jy dood is. Haar arm het koud gevoel, maar nie soos ’n dooie liggaam nie. Meer soos wanneer jy sonder ’n trui in die koue gestaan het. Buitekant kom ons toe by ’n groot, besige pad en die motors ry vinnig by ons verby, terwyl ons al met die sypaadjie langs stap.
“Ons praat nie juis met mekaar nie, tot ek vir haar vra of sy weer vir my gaan kom kuier. Sy gaan probeer sê sy. Terwyl ons stap, dink ek dat ek haar só graag wil vra wat het sy gedink, wat was die laaste ding wat deur haar kop gegaan het daardie aand. Wat presies het gebeur? Was dit ’n ongeluk? Was dit selfdood? Maar ek het myself gekeer, niks gevra nie, omdat sy so gelukkig was, en ek wou nie ons tyd saam bederf nie.
“Op die hoek kom ons toe by ’n winkelsentrum en daar was tafeltjies en stoeltjies aan die buitekant. Ons het gaan sit en sy het melkskommel gedrink. In stilte het ons heerlik net saam, by mekaar gesit soos dit hoort.
“Daarná het ek wakker geword. Ek het nie hartseer gevoel nie. Ek was verheug dat ek tyd met haar kon spandeer. Dit het nie soos ’n droom gevoel nie, dit was soos ’n besoek.”